Daar kan dissipline en orde by ‘n skool en in ‘n klaskamer heers. Ons glo dat die volgende waarnemingstelsel groter positiewe ingesteldheid sal meebring en daarom sal leerders die geleentheid kry om vir positiewe gedrag beloon te word. Met die stelsel poog ons om selfdissipline, samewerking en verantwoordelikheid by die leerders te ontwikkel. Ondervinding het bewys dat 95% van leerders in ‘n klas positief en hardwerkend is en daarom wil ons graag maksimale onderrigtyd aan hierdie leerders bestee. Die leerders wat hulle dus skuldig maak aan oortredings ontneem ander leerders waardevolle onderrigtyd wanneer sodanige leerders deur leerkragte gedissiplineer moet word. ‘n Positiewe onderrigsituasie vereis verantwoordelike optrede van leerders en samewerking van die ouers. Ons kan nie ‘n negatiewe onderrigsituasie aanspreek of verander sonder bogenoemde nie. Om die rede is ‘n “time out” stelsel ontwerp waarvolgens leerders vir herhaalde oortredings gevra word om die klas te verlaat, waar hy buite die klas, maar tog so dat hy die onderrigproses kan volg, moet sit. Daar sal van hierdie leerders verwag word om hulle werk op datum te hou. Daar is nou ook kameras in klaskamers en ander kantore aangebring om met dissipline behulpsaam te wees.
Omdat ons ‘n positiewe ingesteldheid wil aanmoedig kan oortreders hul oortredings kanselleer deur die verwerwing van 3 bonuspunte. Bonuspunte word as volg verkry:

AKADEMIESE BONUSSE word toegeken as volg :

• 1 bonuspunt vir netjiese werk in boeke soos deur vakonderwyser bepaal,
• klastoetse (bv. spel-/tafeltoetse), soos deur vakonderwyser bepaal
• 5 dae klas skoonmaak (1 bonus)
• 1 vroegtydige inhandiging van omsendbriewe/artikels vir omgeeweek (slegs 2 bonuspunte per kwartaal)
• 2 bonuspunte vir volgehoue goeie gedrag vir die hele kwartaal (betyds in klas, ens.)

GEDRAGSBONUSSE :

2 bonuspunte vir volgehoue goeie gedrag oor 4 weke (nie baklei, vloek, ens.)
Elke kwartaal kry leerders die geleentheid om met ‘n “skoon rekord” te begin. Na 5 inskrywings per kwartaal word die ouer telefonies deur klasonderwyser sowel as skriftelik (RPL1 (a), (groen) en per sms in kennis gestel van leerder se oortredings. Hierdie kennisgewing word deur ouer onderteken en teruggestuur na die skool. Nadat leerder hierdie brief ontvang het, sal hy/sy die daaropvolgende Vrydag detensie sit, direk na skool tot 15:30. Reëlings moet vroegtydig getref word. Geen verskonings word aanvaar nie! Leerders wat afwesig is tydens detensie sonder ‘n skriftelike verskoning van ouers, sal vir die daaropvolgende 5 skooldae tydens pouse detensie sit. Na die volgende 5 inskrywings per kwartaal word die ouers telefonies deur die klasonderwyser en DPO sowel as skriftelik (RPL1 (b), (geel) in kennis gestel van leerder se oortredings. Na hierdie kennisgewing sal leerder weer die daaropvolgende Vrydag detensie sit, direk na skool tot 15:30. Na die volgende oortreding word ouer telefonies deur klasonderwyser en DPO in kennis gestel sowel as met ‘n (RPL1 (c), (rooi) waarin leerder en ouers na die dissiplinêre komitee verwys word. DPO reël afspraak. Na hierdie kennisgewing sal leerder weer die daaropvolgende Vrydag detensie sit, direk na skool tot 15:30. Indien leerder na onderhoud met Dissiplinêre Komitee weer enige oortredings begaan, word die leerder en waarnemingsboek deur klasonderwyser na Adjunkhoof verwys wat ouers telefonies sal kontak, sodat die nodige strafmaatreëls getref kan word. Sommige oortredings word met ‘n onmiddellike detensie gestraf. In so ‘n geval, ontvang die leerder ‘n wit brief, waarin ouers in kennis gestel word van die oortreding. Hierdie oortreding word nie in ag geneem vir groen, geel of rooi briewe nie. Hierdie is egter ernstige oortredings, die DPO sal ouers telefonies kontak, sodat nodige verdere stappe geneem kan word.


“COOLKAARTE”

Leerders wat volgehoue positiewe gedrag openbaar sal die geleentheid kry om d.m.v. ‘n “cool” kaart sekere voorregte by die skool te kan geniet. Om ‘n “cool” kaart te verwerf moet leerders aan hierdie volgende 5 vereistes voldoen.

  1. 4 skool weke getrou alle huiswerk doen.
  2. Vier bonusse in waarnemingsboek.
  3. 4 skool weke voorbeeldige gedrag in alle klasse
    (bevestig met klasonderwyser).
  4. 4 skool weke geen boeke vergeet.
  5. 4 skool weke stiptelik opdaag vir klasse.

“Cool” kaarthouers het die volgende voorregte :

  1. Hierdie leerders sal die laaste Vrydag van elke maand met
    gewone klere skooltoe kom.
  2. Daar sal ‘n spesiale ry by die snoepie vir “cool” kaart houers. Hierdie leerders mag ook 5 minute voor die tyd snoepie toe gaan (1ste pouse).
  3. Hierdie leerders mag as hulle verjaar 12 uur huistoe gaan.
  4. Hierdie leerders mag in eksamentye met gewone klere skooltoe kom
    (Gr. 4 – 7).
  5. Leerders wat “cool” kaarte kry, ontvang 2 bonuspunte.

Let daarop dat leerders hul coolkaart
verbeur indien hulle, hulle sou skuldig
maak aan enige oortreding van die
Gedragskode en moet aan die 5
vereistes voldoen om weer ‘n
coolkaart te verwerf.

#EkIsCool

Algemene Klasreëls

  1. Ek sal my klaswerk, elke dag voltooi en te alle tye netjies werk.
  2. Ek sal elke dag al my huiswerk getrou doen.
  3. Ek sal nie uit my beurt praat/uitskree of swak taal gebruik nie.
  4. Ek sal my onderwyser/es en klasmaats te alle tye te respekteer en hulle
    behandel soos ek behandel wil word.
  5. Ek sal die klaskamer netjies hou deur my skoolbank en stoel netjies te
    skuif en skoolterrein netjies hou deur papiere in vullisdromme te gooi.
  6. Ek sal voorbereiding doen vir toetse en assesseringstake.
  7. Ek sal nie in die klas of saal eet en drink nie.
  8. Ek sal nie my selfoon aanskakel tydens skoolure nie.
  9. Ek sal betyds wees vir al my klasse.
  10. Ek sal verantwoordelikheid aanvaar vir my optrede binne/buite die klas
    deur die gedragskode stiptelik na te kom.
  11. Ek sal assesseringstake / werksopdragte betyds inhandig.
  12. Ek sal elke dag al my eie skryfbehoeftes en nodige boeke by die skool hê.
  13. Ek sal die klasse ordelik binne stap of verdaag.
  14. Ek sal nie in ‘n bakleiery betrokke raak of ander viktimiseer nie.
  15. Ek sal stilbly as die interkom gebruik word.
  16. Ek sal my skrifte en handboek netjies oorgetrek hou.
  17. Ek sal nie hardloop/skree op stoepe/kleedkamers nie.
  18. Ek sal toestemming kry voordat ek die klas verlaat.
  19. Ek sal nie van coolkaartdag misbruik maak nie.
  20. Ek sal nie kougom eet by die skool nie.
  21. Ek sal al my klasse pligsgetrou bywoon en nie stokkiesdraai nie.
  22. Ek sal die skooleiendom respekteer en nie beskadig nie.
  23. Ek sal te alle tye volgens die gedragskode aantrek en myself netjies hou.
  24. Ek sal nie oneerlik wees nie.
  25. Ek sal geen speelgoed skooltoe bring nie.
  26. Ek sal sonder verwyl na die korrekte speelgronde toe gaan.
  27. Ek sal nie my mede-leerders se besittings beskadig/steel nie.
  28. Ek sal my weerhou van pornografiese materiaal.

SKOOLREëLS

SKOOLTYE:
Skool begin om 07:25.
Leerders moet reeds om 07:20 op die skoolgronde wees.
Uitkomtye vir Maandae – Donderdae is soos volg:
Gr. 1, Gr. 2 en SPO – 13:00
Gr. 3 – 13:20
Gr. 4 – 7 – 13:50
Uitkomtye vir Vrydae is soos volg:
Gr. 1, Gr. 2 en SPO – 13:00
Gr. 3 – 13:00
Gr. 4 – 7 – 13:20

  1. Nadat leerders in die oggende die skoolterrein bereik het, mag hulle onder geen omstandighede weer sonder verlof van die hoof of adjunkhoof die terrein verlaat nie. Leerders met verlof moet deur ouers by skool afgehaal word, of ‘n skriftelike toestemmingsbrief van die ouers moet getoon word.
  2. Laatkommers sal deur onderwysers aan diens aangespreek word. Indien leerders herhaaldelik laat kom, word hy/sy na adjunkhoof of hoof verwys.
  3. Alleen wanneer die onderwyser in die klaskamer is, mag leerders toegang tot die klaskamer verkry en nie voor die tyd nie.
  4. Leerders word nie toegelaat om voor skool, gedurende pouses of na skool in die skoolgebou, op stoepe of in die vierkant te speel nie. Wanneer dit reën of baie koud is, sal leerders toegelaat word om op stoepe of in die klaskamers te skuil.
  5. Na skool mag leerders slegs by die veilige onderdak wagarea vir ouers wag en op geen ander plek nie.
  6. Fietse word op die skoolterrein gestoot. Niemand mag op die terrein daarop ry nie. Fietse moet in fietsloods gesluit word.
  7. Selfone mag glad nie aangeskakel wees in skooltyd nie en leerders mag nie hul ouers self bel om hulle te kom afhaal nie. Onmiddellike detensie tree in werking. Indien ‘n leerder se selfoon gedurende skooltyd en veral toets-of eksamensessies aangeskakel is, sal die selfoon gekonfiskeer word en onmiddellike detensie tree in werking. Soortgelyke items soos tablette en horlosies met slimfoonfunksies is ook verbode.
  8. Geen leerder mag oor of deur heinings of hekke klim nie.
  9. Geen papiere, skille, sakkies of ander materiaal mag op die speelterrein, sportgronde of in die geboue gegooi word nie.
  10. Niemand mag klippe of ander voorwerpe op die terrein rondgooi nie.
  11. Leerders moet op hulle vooraf aangewysde speelplekke speel. Aangesien die speelgrond te klein is, is dit noodsaaklik dat Gr. 4 – 7 seuns by die sportterein speel. Seuns wat nie hierdie reël gehoorsaam nie sal detensie kry.
  1. ‘n Leerder wat sy mede-leerders te lyf gaan maak hom skuldig aan ‘n ernstige oortreding en sal die gevolge daarvan moet dra. Toeskouers en aanhitsers maak hulle ook skuldig aan bogenoemde al is hulle nie self betrokke by die bakleiery nie. Onmiddellike detensie tree in werking.
  2. Niemand mag in tasse rondkrap of by die fietsloods of tussen die motors speel nie.
  3. Gevaarlike speletjies en voorwerpe soos messe, koeëldoppies, ens. is verbode.
  4. Leerders mag nie op stoele in die klas ry nie. Hulle stel hulself en maats in gevaar en verniel die skool se eiendom.
  5. Kleedkamers en toilette moet skoongehou word. Toiletpapier word by die onderwysers gestoor en nie in die badkamer nie.
  6. Iemand wat hom/haar skuldig maak aan enige vorm van graffitti op mure, deure of meublement begaan ‘n ernstige misdryf. Onmiddellike detensie tree in werking.
  7. ‘n Leerder wat skooleiendom beskadig sal verantwoordelik gehou word vir die skade. Onmiddellike detensie tree in werking.
  8. Leerders in Gr.4-7 moet tydens pouses hande was, water drink, ens. Gedurende skooltyd bly almal in hulle klasse. Rondlopery tydens lesperiodes word tot ‘n minimum beperk.
  9. Geen leerder mag sonder toesig in die skoolsaal kom nie.
  10. Geen leerder mag by die skool kougom eet nie.
  11. Leerders mag nie hulle klasse sonder verlof van die onderwyser verlaat nie en moet dan die voorgeskrewe kenteken vertoon.
  12. Daar mag nie op stoepe of sementpaadjies gehardloop of lawaai word gedurende skoolure nie.
  13. Beweging tussen die skool en saal geskied ordelik.
  14. Leerders beweeg nie op die gras nie. Beweeg slegs op stoepe of sementpaadjies.
  15. Aantree voor klasse en klaswisseling moet ordelik en in enkel gelid geskied.
  16. Na skool moet alle leerders so spoedig moontlik die skoolterrein verlaat en huis toe gaan.
  17. Leerders wat na ‘n ander skool verhuis, moet sorg dat alle handboeke ingehandig word, sowel as ‘n oorplasingsbrief by die kantoor kry, alvorens hulle die skool verlaat.
  18. Enige adres- of telefoonverandering moet onder die aandag van die klasonderwyser gebring word.
  19. Skooldrag en sweetpakke moet duidelik gemerk wees.
  20. Verlore klere, skoene, sakke en tasse moet binne een week by die Klerekas afgehaal word, daarna word onopgeëiste skoolklere verkoop. Skutgeld is betaalbaar.
  21. Dogters mag in elke oor slegs een ringetjie of knoppie (stud) dra.
  22. HARE : DOGTERS se hare moet netjies wees. Indien hare oor die kraag hang, moet dit vasgemaak word. Geen los hare in die gesig word toegelaat nie. Kuiwe mag nie in die oë hang nie.
    SEUNS se hare moet netjies en kort geknip wees en mag ook nie in die oë hang nie.
  23. SPF leerders word nie toegelaat om musse of pette in skooltyd te dra nie.
  1. Dogters mag glad nie grimering skool toe aanhê nie – veral nie op verjaarsdae en dae wat Rappie-hempies aangetrek word nie. Lang hare moet te alle tye vasgemaak wees.
  2. Ons doen ‘n beroep op al die leerders van Laerskool Rapportryer om te alle tye trots te wees op hulle skool.
  3. Elkeen moet sy skool ondersteun en verteenwoordig in buitemuurse aktiwiteite. Dan alleen kan die skool trots wees op al sy leerders.
  4. Leerders van Gr. 1-3 mag nie na skool deur die vierkant huistoe beweeg nie, aangesien seniors nog klas het. Junior leerders mag net by toegekende wagarea wag.
  5. Korrekte skooldrag is ten alle tye van toepassing.
  6. Geen armbande, kettinkies en horlosies met slimfoonfunksies, ens. van watter aard ookal, mag saam met skooldrag gedra word nie, Medic Alert kettinkies uitgesluit
  7. Indien leerders gewone klere of Rappie-hempies en denims aantrek, moet ‘n kniebroek of langbroek gedra word. Tekkies of toe skoene mag op die geleentheid gedra word – geen plakkies of hakskoene nie. Tydens Rappie-hempiedag mag warm drag slegs Rappie skooldrag wees.
  8. Leerders wat provinsiale kleure verwerk het, mag hul provinsiale sweetpak op Vrydae aantrek.
  9. Vloek- en skeltaal word glad nie geduld nie. Onmiddellike detensie tree in werking.
  10. As spesiale vergunning, mag leerders wat op ‘n skooldag verjaar, gewone klere aantrek.

H U I S W E R K
Leerders se huiswerk verskyn weekliks vooruit op die “Communicator”.
NEEM ASSEBLIEF kennis dat alle onvoltooide
Gr 4 – 7 klaswerk ook huiswerk is!

AFWESIGHEDE

Leerders wat afwesig was moet ‘n brief van sy/haar ouers, waarin die rede vir afwesigheid aangetoon word, aan die klasonderwyser toon.

Leerders wat herhaaldelik afwesig is, sal versoek word om die skool van doktersverslae te voorsien.

Leerders wat herhaaldelik sonder grondige verskoning afwesig is, word aan Distrikskantoor gerapporteer.

Leerders wat afwesig is vir toetse of eksamen moet ‘n doktersertifikaat inhandig. Leerders wat afwesig is wanneer portefeuljetake gedoen word, is self verantwoordelik vir die voltooiing daarvan.


PROSEDURE TEEN LEERDERS WAT
ERNSTIGE OORTREDINGS BEGAAN:

▪ sonder enige voorafgaande waarskuwing word die leerders aan die bestuurspan van die skool gerapporteer.
▪ tydens hierdie vergadering word besluit of die leerders na die dissiplinêre komitee verwys gaan word.
▪ die bestuurspan stel die leerder en ouers skriftelik, telefonies of per sms in kennis van die besluit wat geneem is.
▪ indien die aangeleentheid na die dissiplinêre komitee verwys word, word die dissiplinêre aanmeldingsvorm voltooi en ingedien by die voorsitter van die dissiplinêre komitee.
▪ die voorsitter van die dissiplinêre komitee stel die leerders en ouers skriftelik in kennis van die oortreding en die datum wanneer die komitee met die ouers in gesprek wil tree.
▪ die leerder en sy/haar verteenwoordiger (indien van toepassing) moet voor die komitee verskyn om sodoende ook sy/haar kant van die saak te stel.
▪ nadat die aangeleentheid deur die dissiplinêre komitee deeglik ondersoek is en alle betrokkenes se verwere aangehoor is en voldoende en bevredigende bewyse gelewer is, sal die komitee ‘n uitspraak lewer. Hierdie uitspraak sal skriftelik aan die leerder se ouers oorhandig word.
▪ die totale verloop van die gebeure sal in die komitee se verslag verskyn en in die leerder se kummulatiewe verslagkaart geliasseer word.
▪ hierdie verslag en uitspraak van die komitee word ingedien by die Departement van Onderwys se betrokke Distrikskantoor. Verdere optrede en handeling met die betrokke leerder sal deur die Distrikskantoor hanteer word.
▪ die Onderwysdepartement gee die finale goedkeuring vir die optrede teenoor die leerder.

Indien die leerder skuldig bevind word, kan op een of meer van die volgende besluit word:

Aanbevelings wat deur die dissiplinêre komitee gemaak kan word:

  1. Detensie op Vrydae na skool.
  2. Ontneming van voorregte binne skoolverband.
  3. Rehabilitasie word aan die ouer oorgelaat en die ouer moet bevredigende terugvoer aan die hoof gee.
  4. Die leerder kan na gespesialiseerde dienste verwys word.
  5. Waar van toepassing, kan kriminele klagte gelê word.
  6. ‘n Leerder kan vir ‘n tydperk uit die skool geskors word.

In al bogenoemde gevalle, sal daar ‘n skriftelike ooreenkoms met die ouer, sowel as die leerder gesluit word ten einde herhaling te voorkom.