SKOOLGEREEDHEID

U kind is skoolgereed wanneer hy/sy:

  1. LIGGAAMLIK daartoe in staat is om vordering in die skool te maak.
  2. EMOSIONEEL voorbereid is om die skoolwêreld te betree en skeiding van sy/haar ouers te aanvaar.
  3. SOSIAAL kan aanpas by nuwe situasies, onafhanklik is en in ‘n groep kan funksioneer en hom/haar aan dissipline kan onderwerp.
  4. PERSEPSIONEEL kan waarneem en ervaar.
  5. GROOTMOTORIESE BEWEGINGS kan uitvoer soos loop, hardloop, spring, ens.
  6. FYNMOTORIES ONTWIKKEL is om klein voorwerpies en skryfgereedskap te hanteer.
  7. INTELLEKTUEEL oor die vermoë beskik om kennis in te neem en te verwerk.
  8. KONSENTREER op ‘n spesifieke taak op ‘n spesifieke tydstip vir ‘n spesifieke tydperk.
  9. GEMOTIVEERD is. Met ander woorde ‘n drang het om kennis te besit en nuuskierigheid en leergierigheid openbaar.

GR. 1-OPEDAG word gedurende April / Mei gehou.

By dié geleentheid kry beginners en hul ouers die kans om die skool te besoek om inskakeling te vergemaklik.

GRONDSLAGFASE (GRAAD 0 – 3)

Met die oog op ‘n toenemende persentasie leerders wat sukkel om te lees en wiskunde te doen asook die Departement se kommer oor dié tendens, het ons besluit om terug te keer na die drie “r’e” nl. “reading, writing & rhythmetic”. Daar word dus baie klem gelê op daaglikse leesaktiwiteite. Daar word ook weekliks spel- en wiskundetoetsies geskryf. Die noodsaaklikheid van drilwerk kan nie oorbeklemtoon word nie. Die leerders word wiskunde kombinasies en tafels op ‘n gereelde wyse ingedril. Leerders word op ‘n deurlopende wyse van dag tot dag geassesseer. Verslae word kwartaalliks uitgereik, na afhandeling van die voorgeskrewe formele assessering.

Sedert die begin van 2012 is “CAPS” KURRICULUM in die Grondslagfase geimplimenteer. Daar sal in die volgende vakke onderrig gegee word: Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde en Lewensvaardigheid. Daar word in die eerste week van ‘n kwartaal basislyn assessering gedoen om vas te stel op watter vlak die leerder is en waaraan ekstra aandag gegee moet word. Daaglikse assessering stel die onderwyser in staat om onmiddellik te sien watter leerders probleme het. Leerders met probleme se ouers word ingelig en hul moet teken dat hul kennis neem. Die aantal assesserings per graad en per kwartaal word in die “CAPS” beleide aangegee. Punte word op ‘n 7-punt skaal aangegee.

INTERMEDIêRE FASE (GRAAD 4 – 6)

“CAPS” is vanaf Januarie 2013 geimplementeer in die Intermediêre fase (Gr. 4 – 6) en vanaf Januarie 2014 in die senior fase (Gr. 7). Die volume is meer, derhalwe het die werkstempo aansienlik versnel. Die leerders word stelselmatig tot meer selfstandige werk gelei. Om leerders aan te moedig om deur die jaar hard te werk en nie net vir eksamens nie, vind deurlopende assesserings plaas. Punte word op ‘n 7-punt skaal en persentasie toegeken. Die leerders ontvang vier rapporte per jaar.

DIE VOLGENDE LEERAREAS WORD AANGEBIED :
Afrikaans Sosiale Wetenskappe (SW)
Engels Natuurwetenskappe en Tegnologie
Wiskunde Lewensvaardighede (onderverdeel in drie komponente nl. persoonlike en sosiale welstand, skeppende kunste en liggaamlike opvoeding).

Daar word baie klem geplaas op aktiwiteite om die leerders se leesvermoë sowel as hulle rekenvaardighede soos bv. tafels te verbeter. Daar word weekliks tafeltoetse sowel as speltoetse geskryf. Remediërende lees word gedoen, daar word van ouerhulp gebruik gemaak om die leerders te help met hulle lees. Tafels word deurlopend ingedril.

Ekstra kurrikulêr : Rekenaaropleiding, Kreatiwiteitsontwikkeling en opvoedkundige toere ter aanvulling van die sillabus.

JUNIOR SEKONDêRE FASE (GRAAD 7)

DIE VOLGENDE LEERAREAS WORD AANGEBIED :
Afrikaans Sosiale Wetenskappe (SW)
Engels Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW)
Wiskunde Kuns en Kultuur (K & K)
Tegnologie (Teg) Lewensoriëntering (L O)
Natuurwetenskappe (NW)

Baie aandag word deurlopend gegee aan die verbetering van leerders se leesvermoë. Die leerders word gehelp om met begrip te lees en weer te gee wat hulle gelees het. Wiskundige vaardighede ontvang ook baie aandag. Leerders word geleer om wiskundige kombinasies te bemeester. Kombinasie-toetse word elke week geskryf.

SKOOLGEBASEERDE ASSESSERINGS (SGA)
Skoolgebaseerde assesserings word intern deur die skool gedoen en by grade 4 – 6 maak dit 75 % uit. Die res word opgemaak deur toetse en eksamen. By graad 7 is die SGA 40%. Indien ‘n leerder nie voldoen aan die vereistes nie, moet daar hulpprogramme aan hom/haar gegee word om aan die vereistes te voldoen.

DEURLOPENDE ASSESSERINGS (DAS)
Leerders se werk word deurlopend geassesseer, elke werkstuk word geassesseer waaruit sy punte opgebou word. Daar is verskillende vorme van assessering byvoorbeeld: take, projekte, werkopdragte, ens. Die werk wat deurlopend geëvalueer word, word in die leerders se portefeuljelêer gehou. Dit is beskikbaar vir die ouers, sodat hulle kan sien hoe die leerders geëvalueer word en wat hulle vordering is. Daar word elke kwartaal ‘n verslag aan die ouers gestuur, sodat hulle kan sien of die leerder in graad 4 – 7 die vakinhoud onder die knie het.

TOETSE

Daar word Dinsdae en Donderdae amptelike toetse geskryf. Die toetsperiode is gedurende die eerste periode van die dag en duur 50 minute. Daar word ook gereeld klastoetse geskryf. Die leerders sal vroegtydig ‘n afbakening van die werk vir die toetse ontvang.

EKSAMEN

Daar word twee amptelike eksamens geskryf deur die jaar. Die eerste eksamen is gedurende Juniemaand en die tweede eksamen is gedurende Novembermaand. Die eksamen en die toetspunte maak by grade 4 – 6, 25 % uit van die leerders se rapportpunt en by graad 7 maak dit 60% uit.

LET WEL: Indien die leerder tydens amptelike toetse of eksamen afwesig is, sal toetse slegs met ‘n doktersbrief oorgeskryf kan word.

SLAAGVEREISTES

GRAAD 4 – 6

Afrikaans vlak 4 (50% of meer)
Engels vlak 3 (40% of meer)
Wiskunde vlak 3 (40% of meer)

Twee van die oorblywende drie vakke moet ook as volg
geslaag word:

Natuurwetenskap / Tegnologie vlak 3 (40% of meer)
Sosiale Wetenskappe vlak 3 (40% of meer)
Lewensvaardigheid vlak 3 (40% of meer)

GRAAD 7

Afrikaans vlak 4 (50% of meer)
Engels vlak 3 (40% of meer)
Wiskunde vlak 3 (40% of meer)

Drie van die oorblywende vakke moet met ‘n vlak 3 (40% of meer) geslaag word twee van die oorblywende vakke moet met ‘n vlak 2 (30% of meer) geslaag word:

Natuurwetenskap Tegnologie
Sosiale Wetenskappe Ekonomiese Bestuurswetenskap
Lewensoriëntering Kuns en Kultuur

SPREEKURE: Indien enige onsekerheid of besorgdheid by u as ouer ontstaan, kan u gerus die skoolhoof kom spreek. Die kantoordeur staan altyd oop vir ouers wat besorgd is oor leerders se vordering. Ons nooi u hartlik uit om van die geleentheid gebruik te maak. Ons raai u egter aan om eers ‘n afspraak by die ontvangsdame te maak.


PRESTASIE TOEKENNINGS

Sertifikaat van Verdienste

ELKE leerder (Gr 1 – 7) ontvang aan die einde van die akademiese jaar ‘n Sertifikaat van Verdienste. Alle aktiwiteite asook akademiese prestasies word op die sertifikaat aangebring.

Prysuitdelingsaand

Leerders wat toekennings (knopies, balkies, ens.) ontvang, word na die toekenningsaand genooi.

Knopies, Balkies, Erekleure en Trofeë

Knopies, balkies en erekleure word op grond van spesifieke kriteria toegeken vir akademie, sport en kultuur. Doen gerus navraag by u kind se onderwyser.

DIE VOLGENDE TROFEë WORD IN ELKE GRAAD TOEGEKEN:

Veelsydigste Seun / Dogter in Kultuur: Dit is dié leerder wat aan ‘n verskeidenheid kulturele aktiwiteite deelgeneem het en besonder presteer het in ‘n verskeidenheid items.
Veelsydigste Seun / Dogter in Sport: Dit is dié leerder wat aan ‘n verskeidenheid sportitems binne skoolverband deelgeneem het en ‘n besondere prestasie behaal het in meer as een sportitem.
Dux-leerder: Dit is die leerder met die beste akademiese prestasie in sy/haar graad.
Rappie van die Jaar: Dit is dié leerder wat op al 3 gebiede naamlik sport, kultuur en akademie besonder presteer het én prestasies behaal het. Leerders kry punte op elke gebied en die leerder met die hoogste puntetoekenning behaal dan die prestasie. GEEN buite kurrikulêre deelname word in aanmerking geneem nie.
Aansporingstrofee: Word deur die Bestuursraad bepaal. Daar word onder andere gelet op ‘n leerder se:
Skoolbywoning Gesindheid teenoor skool
Stiptheid en Betroubaarheid Buite-kurrikulêre aktiwiteite
Buite skoolverband deelname Hulpvaardigheid en Selfstandigheid
Akademiese vordering Getrouheid in uitvoering van pligte
Vaktrofeë
In Gr 4 – 7 word daar in elke graad ‘n trofee toegeken aan die leerder wat die beste presteerder per leerarea (in ‘n vak) is.

Top 10-Akademiese Presteerders

In elke graadgroep word daar 10 leerlinge geïdentifiseer wat deel vorm van die akademiese Top 10. Dit is leerlinge wat die hoogste akademiese prestasie behaal het deur die jaar. Hulle word ook tydens die toekenningsaande vereer.